Dit is „n versreël uit die vierde ode van die vierde boek van die odes van die Romeinse digter Horatius. Die betrokke gedig is geskryf ter ere van die jong Drusus, stiefseun van Augustus (Horatius het kort voor Christus geleef) by geleentheid van die oorwinning wat hy behaal het oor die Vindelinci, „n Germaanse volkstam uit die streek wat vandag min of meer Beiere in Suid-Duitsland is.
Die digter se uitgangsgedagte is dat ingebore kragte en talente met die regte opvoeding tot volle ontplooiing kom, soos in die geval van Drusus. Die oorspronklike versreëls lui:
Fortes creantur fortibus et bonis;
Est in invencis, est in equis partum
Virtus, neque imbellem feroces
Progenerant aquilae columbam
Doctrina sed vim promovet insitam,
Rectique cultus pectro roborant
„n Letterlike vertaling sal dan soos volg lui:
Dapperes word gebore uit dapper en edele manne, In jong bulle en perde is die deug van hul vaders, En menige arende bring nie die vreedsame duif voort nie; Maar tog versterk lering die ingebore krag, En versterk die regte opvoeding die inbors.
Die woord “vim” beteken eintlik “geesteskragte”. n Vrye vertaling is dus:
“Geletterdheid ontwikkel die sluimerende geesteskragte”